Meesterlike modelmotortjies op skou
Die 22ste George Oumotorskou, trots ondersteun deur Oakhurst Versekeringsmaatskappy, vind op 10 – 11 Februarie 2018 plaas.
Soos elke jaar, sal daar weer ‘n uitstalling van meer as 5 000 modelmotortjies wees, waarvan die meerderheid te koop sal wees. Dit gee jong en oud die geleentheid om ‘n model-grootte motor wat sy eie, sy ouers of sy grootouers se motor van ouds in herinnering roep, aan te skaf.
Die uitstalling is ‘n groot treffer, ook onder kinders, wat dalk tot nadeel van hul ouers se beursies is!
Bunny Wentzel van Sportique Collectable Models in Johannesburg sal weer sy versameling by die skou uitstal en van die beste modelle ter wêreld, soos die CMC-reeks van Duitsland, te koop aanbied.
Die meegaande foto illustreer CMC se nuutste model, die Talbot Lago Coupé T150 C-SS “Teardrop” van 1937 – 1939, wat gebou is op ‘n skaal van 1:18 (18 x kleiner).