Chev Belair Coupe die perfekte koets vir Erfenistoer ‘22

Chev Belair Coupe die perfekte koets vir Erfenistoer ‘22

George, Tuinroete ( September 2022) – Niel Kasselman sê hy vry al vir ‘n lang tyd na die wonderlike oumotor wat hom en drie van sy familielede gaan vervoer tydens vanjaar se Erfenistoer – die Suid-Kaap Oumotorklub se jaarlikse uitstappie ter viering van Erfenismaand, en Suid-Afrika se veelsydige motorerfenis.

Niel is stigter en bestuurder van die suksesvolle George maatskappy OJanna Distributors – die goue borg van Erfenistoer 2022. En op 22 September sal hy gereed wees om die pad te slaan vanaf die toer se amptelike afskoppunt by Halfway Toyota in Knysnaweg, George.

Chevy-droom bewaarheid

Niel en sy vrou Ria gaan vanjaar se toer aflê met hul dogter Nadia en skoonseun, Frikkie van der Merwe, as deel van hul toerparty in die kundig gerestoureerde 1954 Chevrolet Belair Coupe. Die ‘kinders’ sou deelneem in hul eie oumotor, maar dié statige senior dame – ‘n 1957 Wolseley 15/50 – het enjinprobleme ondervind en hul dus genoodsaak om by Ria en Niel in die Chev aan te sluit.

“Hierdie uiters skaars voertuig was vir baie jare my droommotor. Op die rype ouderdom van 58 kon ek dit toe uiteindelik in die hande kry,” sê Niel, en voeg by dat die motor in 2019 heeltemal herbou is, en die sessilinder-enjin vervang is met ‘n V8 Oldsmobile Rocket en TH400 Auto ratkas.

“Ek het so byna die motor in 2020 kon koop, maar het daardie geleentheid met ‘n dag of twee gemis toe ‘n versamelaar genaamd Andre Fourie van Hartebeespoortdam my voorgespring het. Andre het die motor besit tot begin vanjaar, toe hy besluit het om te verkoop omdat hy eintlik ‘n bakkieman is en nou daarop fokus om soveel as moontlik ou bakkies te bekom.

“Toe die Chevy op die mark verskyn, het ek dit dadelik gekoop sonder om eers te gaan kyk, want ek het die kar so goed geken. Dit is van meet af deur Coastal Customs in Mosselbaai herbou.”

Niel sê die motor ‘n “werklik oorspronklik” en perfek bewaar, al is dit met ‘n enjin wat aangepas is om ‘n bietjie groter en sterker te wees. Van sy aantreklikste kenmerke is dat die Belair pragtig geverf is in swart pêrelmetaal, met ‘n smaakvolle roomkleurige dak.

Dors maar nie nors…

Niel sê sy oumotor ry soos ‘n droom, maar hy moet toegee dat die dame redelik dorstig is: vir elke liter brandstof ry mens maar 5.5km ver. Daar is egter baie versagtende omstandighede, onder andere die feit dat Ria ewe verlief is op hul Chevy.

“Ons ken mekaar sedert 1980 en is in ’84 getroud,” vertel Niel. “Ons het drie kinders en ses kleinkinders, en almal van hulle is absoluut oukar-mal.” Dis dus heeltemal gepas dat Ria, Nadia en Frikkie almal Erfenistoer ‘22 gaan meemaak in hierdie familie-vriendelike koets.

Fyn pikkewyn

Multi-Fine Products is trots om deel te wees an die Suid-Kaap Oumotorklub se 10de Erfenistoer, van 22 tot 25 September. Die pret skop af op 22 September by Halfway Toyota in George, voordat daar vertrek word na Oudtshoorn, De Rust, Prins Albert en Matjiesfontein. Dag 2 sluit die dorpe Ceres, Tulbagh, Porterville, Velddrif en St Helenabaai in, met Dag 3 se roete wat verby Vredenburg, Windmeul, Worcester, Robertson en Montagu lei. Die laaste dag op 25 September sal Erfenistoer-bestuurders per Barrydale, Tradouwpas, Buffelsjagrivier en Riversdal na George laat terugkeer.

Wes-Kapenaars moet kennis neem dat hierdie unieke vloot eksklusief bewonder kan word tydens verversingstoppe in Prins Albert, Matjiesfontein, Tulbagh, St Helenabaai, Windmeul en Montagu.

Die 26ste George Oumotorskou word beplan vir 11 & 12 Februarie 2023.

Kontak mimi@gojipr.net of skakel 084 583 3144 vir verdere inligting.