Dié Packard is bes moontlik die mees stylvolle Erfenistoer 2021 deelnemer

Dié Packard is bes moontlik die mees stylvolle Erfenistoer 2021 deelnemer

George, Tuinroete, Suid Afrika – Sept 2021 – Deelnemers aan die Suid-Kaap Oumotorklub (SKOMK) se Erfenistoer, trots ondersteun deur Recollection Rides, verken tussen 23 tot 26 September ‘n aantal pragtige Kaapse paaie. Moontlik die mees eerbiedwaardige van vanjaar se motors is ‘n Packard Convertible One Twenty van 1941, wat hierdie jaar agt dekades herdenk, sedert die laaste model die fabriek blinknuut verlaat het.
Die jaar 1941 was Packard se laaste volledige produksiejaar, omdat die vervaardiging van motors op 9 Februarie 1942 gestaak is, nadat die VSA in Desember 1941 tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree het. Van die vier Packard 120 afslaankap koepees wat in 1941 in Suid-Afrika uit die VSA ingevoer is, is dié een die enigste wat nog bestaan.
Sep Serfontein woon in Wilderness en het sy eerste Packard – ‘n 1941 One Twenty Sedan – in 1982 bekom. So dol was hy oor hierdie besonderse motor dat kort daarna besluit is om net op Packards en die jare veertig te fokus.
Die Packard afslaankap se restoureerder het uiteindelik, met behulp van sy seun Louis, die werk in 2014 voltooi. Dit vertel ‘n verhaal wat oor vier dekades strek. Die storie begin in die middel-80s, toe die klassieke ou motor op die Kaapse Vlakte ontdek is.
“Befaamde oumotorversamelaar Bertie Bester het blykbaar die wrak geruil vir ‘n gerestoureerde 1938 Dodge koepee. Deur middel van ‘n verdere komplekse ruiltransaksie het ons in 1987 die Packard bekom, en vir 22 jaar in Pretoria gestoor,” vertel Serfontein.
Gedurende hierdie tydperk is verskeie onsuksesvolle pogings aangewend om met restourasie te begin. ‘n Aantal 1941 sedan wrakke is vir onderdele gekoop en gestroop. Die dakraam is eers teen 1991 opgespoor. Die enjin is reeds in 1998 deur Jan Snyman van Pretoria herbou.
Intussen het die soektog na onderdele hier en in die VSA onverpoosd voorgeduur – en is beswaarlik vergemaklik deur die feit dat President Rooseveldt bakwerkgietstukke en baie Packard onderdele aan sy oorlogstydse bondgenoot en Packard entoesias, Joseph Stalin, geskenk het.
Gevolglik moes Serfontein Snr en sy medewerkers verskeie onderdele self aanmekaarslaan, gedurende ‘n soek- en bymekaarmaakproses wat sowat 20 jaar beslaan het. Die motor, met bietjie meer as wrakstukke , het uiteindelik in Wildernis in 2009 aangeland. Werk aan die bakwerk het daarna, met die hulp van Fanie van Wyngaard, in alle erns begin. Dit sou later deel word van die Serfonteins se versameling Packards uit die veertigerjare.
“Dis interessant om te noem dat meeste Suid Afrikaanse kabinetsministers in die dertiger- en veertigerjare, Packards as ampsmotors verkies het,” sê hy. Ontmoet mede-eienaars Sep en seun Louis Serfontein, en hul unieke oumotor, wanneer daar vertrek word op Erfenistoer 2021 teen 23 September.
Die SKOMK organiseer ook die gewilde George Oumotorskou, beplan vir 12 en 13 Februarie 2021. Besoek www.scocc.co.za vir fynere besonderhede.