Erfenistoer 2021: stories oor karre en dorpe gedeel deur ou-motor liefhebbers

Erfenistoer 2021: stories oor karre en dorpe gedeel deur ou-motor liefhebbers

George, Tuinroete (Oktober 2021) – Staaltjies en grappies het die braai-ete gekenmerk wat op Sondagmiddag 3 Oktober by die Suid-Kaap Oumotorklub (SKOMK) se hoofkwartier geniet is, toe ‘n kamervol deelnemers aan vanjaar se Erfenistoer (van 23 tot 26 September) weer bymekaar gekom het.

Telke eienaars van die 25 besonderse motors – waarvan party, soos die 1941 Packard Convertible 120, selfs ‘n wêreldoorlog oorleef het – was byderhand om te gesels oor vanjaar se toer deur die Suid-Kaap, Boland en Klein-Karoo.
Slegs motors wat voor 1980 gebou is kon registreer, en 10 van dié jaar se ou-motor eienaars het nog nooit vantevore die toer meegemaak nie. Die oudste toervoertuie was twee Ford Model A’s van 1929 en 1931 onderskeidelik.
Bestuurders wie al nege Erfenistoere tot op hede in dieselfde motors meegemaak het is Chris van Staden in sy 1968 Porche 912 Targa, George Marx in ‘n 1957 Morris Minor, en Erfenistoer organiseerder Pierre Olivier, wie met gade Tilly in die passasiersitplek van hul 1961 Morris Minor saamgereis het.
Tydens die nabetragtingsmaal was die Oliviers duidelik nog opgewonde oor hul pas-afgelope ondervinding. “Dit was so ‘n pragtige roete dat dit moeilik is om enige deel of dorp uit te sonder,” sê Pierre.
“Omdat ek uit ‘n landbou gemeenskap kom, was dit werklik die mooiste gesig toe ons oor ‘n bult ry en hier voor ons lê die Theewaterskloofdam… en hy loop oor! Ek het in daardie area gewerk en het die dam op sy heel laagste vlak, teen 7% vol, gesien. Wat ‘n ervaring om hom nou te sien oorloop.
“Die ander plekkie wat ook prentjiemooi was, is die dorpie Elim met sy rietdak-huisies wat allerhande kleure geverf is. Ons moes eenvoudig daar stop en die uitsig bewonder.”
Op Saturdag die 25ste het die toergroep van Worcester af deur Montagu, Barrydale en Calitzdorp gery voordat die dag in Oudtshoorn met ‘n swieraand en prysuitdeling afgesluit is. Op die Sondag het die stoet deur De Rust na George teruggekeer.
Toe die George-geseltede toerlede ‘n week later weer byeen kom, is die geleentheid gebruik om dank oor te dra aan SKOMK voorsitter Mike Alexander en sy komitee, met welverdiende applous ook aan Philip Kuschke van die SA Veteran and Vintage Association.
Besighede wie die hoofborg Recollection Rides bygestaan het was Halfway Toyota, vanwaar die toergroep op 23 September vertrek het, sowel as Click on It, Midas, Perfect Water, Safari en Supa Quick.