Erfenistoer gaan vanjaar blomme kyk

Erfenistoer gaan vanjaar blomme kyk

George – Die sewende Erfenistoer van die Suid-Kaap Oumotorklub vind vanjaar vanaf 21 tot 25 September aan die Weskus plaas. Die Erfenistoer gedenk Nasionale Erfenisdag, en val saam met die Weskus se blommeprag wat jaarliks in die lente duisende besoekers vanoor die hele wêreld lok.

Die 2018 Erfenistoer word moontlik gemaak deur Montego Pet Nutrition. Hannes en Carol-Ann van Jaarsveld, eienaars van Montego, wat in Graaff-Reinet gesetel is, is self oumotor-entoesiaste. “Ons borg die Erfenistoer omdat ou karre ons as gesin baie na aan die hart lê,” sê Hannes. “Ons voel dat ons met die borgskap kan bydra om ons motorgeskiedenis vir die nageslag te bewaar.”

Die oumotors lok gewoonlik groot belangstelling uit waar hulle ook al gaan en inwoners van die dorpe waar hulle aandoen en oorbly kan uitsien na ‘n skouspel van motors uit toeka se dae.
Weskusroete
Die 51 deelnemers in 27 voertuie kom op 21 September by Matroosberg 4×4 buite Ceres bymekaar. Op 22 September vertrek hulle oor Malmesbury, Darling en Yzerfontein na Velddrif, waar hulle in die Riviera-hotel oornag.
Op 23 September ry hulle oor Piketberg en Leopoldtville na Lambertsbaai, waar hulle in twee aangrensende gastehuise oornag. Op 24 September ry hulle oor Clanwilliam, Citrusdal en Porterville terug na Ceres, waar hulle weer by Matroosberg 4×4 oorbly en waar die toer op deftige wyse afgesluit word met ‘n gala-aand. Op 25 September vertrek die groep van die Tuinroete oor Heidelberg terug huis toe.
Deelnemers
Die oudste voertuie op vanjaar se toer is Philip Kuschke en Ockert van der Berg se 1915 Ford Model T’s, met Phillip en Amanda Rosser se 1926 Ford Model T die tweede oudste. Die Ford Model T’s is al ikonies van die Erfenistoer en ontlok gewoonlik groot belangstelling van mense wat daarby afgeneem wil word.
Mike en Susan Alexander se 1936 Plymouth Sedan en Kevin en Desmond Casey van Harrismith in die Vrystaat in ‘n 1936 Ford Phaeton is die ander oudste voertuie wat vanjaar deelneem.
Die meeste deelnemers woon in die Tuinroete, maar Jan du Randt en Jani Klomp kom al die pad van Stormsrivier in hul 1962 Consul Capri 315, terwyl Sydney en Daphne Young van Tulbagh in hul 1961 Morris Minor 1000 vanjaar sommer net na die buurdorp Ceres hoef te ry om deel te neem.
Die gewildheid van dié Britse Morris Minor 1000 word onderstreep deur die feit dat vyf van hulle, wat dateer tussen 1957 en 1962, aan vanjaar se Erfenistoer deelneem.
Die Suid-Kaap Oumotorklub, wat in 1988 op George tot stand gekom het, bied die jaarlikse George Oumotorskou in Februarie aan waartydens sowat 900 veteraan- en klassieke motors uitgestal word. Die Oumotorskou word voorafgegaan deur ‘n Veteraantoer, wat vanjaar vyf dae geduur het, en die Erfenistoer bied nog ‘n geleentheid vir oumotor-geesdriftiges om hul mooi ou motors, wat in baie gevalle uit ‘n bakkievrag onderdele opgebou is, te geniet en aan die gemeenskap bekend te stel.
Meer oor Montego
Die Van Jaarsvelds het sowat 18 maande gelede ou voertuie en motorfietse begin versamel en besit nou 42 motors en 9 motorfietse. Hulle beplan om ‘n museum met die naam ReCollection Rides op Graaff-Reinet te open waar hulle hul eie en ander versamelaars se voertuie kan uitstal. “Ons wil hier ook van ons voertuie wat ons wil vervang, te koop aanbied.”
Kontak Pierre Olivier, voorsitter van die komitee wat die Erfenistoer reël, by 082 872 6456 vir meer besonderhede.