30 Jan Gade van George Oumotorskou-stigter deel staaltjies uit vergange se dae
George, Tuinroete (Januarie 2022) – Organiseerders van George Oumotorskou (GOMS) 2022, moontlik gemaak deur SCRIB BENZeum, betree nou die pylvak in hul beplanning om dié jaarlikse bymekaarkoms van motorliefhebbers te beklink. En terwyl die skoudatums van 12 en 13 Februarie naderrol, bring hulle graag hulde aan die stigter van hierdie besonderse geleentheid.
First George Old Car Show 1
Wyle Paul Fick het ses jaar gelede sy allerlaaste reis hiernamaals toe aangedurf, maar stories en berigte van sy geseënde lewe is steeds springlewendig. Tydens sy leeftyd is hy internasionaal geloof as versamelaar en restourateur van ‘n hele stoet spesiale motorkarre.
In sy tuisdorp, George, is Paul se nalatenskap die tasbaarste wanneer dit Oumotorskou-tyd is. En vanjaar se Silver Jubilee GOMS vier die 25ste geleentheid sedert dit die eerste keer in 1997 op die Ficks se geil plaasgrasperk aangebied is. Leonora Fick, 88, woon steeds in die plaas se bekoorlike opstal.
George Herald van 6 Maart 1997 het so berig: “’n Suksesvolle byeenkoms van oumotor-entoesiaste is in perfekte weer by Paul Fick se Victoriabaai-plaas gehou. Die hoofdoel was om die Suid-Kaap af te wys as vertoonsentrum vir ou motors en motorfietse. Klubs van heinde en verre, onder meer Port Elizabeth en Kaapstad, het kom deelneem en bewonder.
“Ons beskou 110 ou motors as ‘n uitstekende vertoning,” het mnr Fick gesê. “Daar is reeds ’n komitee saamgestel om volgende jaar se skou te beplan, so dit lyk of hierdie voortaan ’n jaarlikse gebeurtenis sal wees.”
Die verslag sluit af met lof aan die Suid-Kaap Oumotorklub as geleentheidsorganiseerders, en sê die dag se opbrengs het diensorganisasies bevorder. Vandag, afgesien van die skougronde, aantal motors en stalletjies, het nie veel verander nie: SKOMK-lede bied steeds die geleentheid aan, deelnemers en besoekers van naby en ver geniet die skouspel.
Eleanor Fick onthou daardie eerste byeenkoms op die uitgestrekte Blackwood Plaas grasperke – en dis maar net een van ‘n reeks noemenswaardige geleenthede wat deur die Ficks oor etlike dekades beleef is.
Haar gesig verhelder wanneer Eleanor vertel hoe Paul se gunsteling motor van alle tye, ‘n 1920 Voisin C1, in Uruguay verkry is. ‘n Neutedop-weergawe sluit in die verkoop deur ‘n mooie meisie aan sluwe plaaslike agente, Paul se troefkaart in verkryging van die Voisin se registrasiepapiere, en die motor se uiteindelike versending van Suid-Amerika na Suid-Afrika.
Die volle verhaal lees soos ‘n fliekdraaiboek en is volledig in die Junie 1991-uitgawe van CAR-tydskrif vertel. Op 1 Augustus van dieselfde jaar het George Herald ‘n brokkie ingesluit met die opskrif ‘Paul Fick maak opslae in die wêreld van veterane’. Daar word berig dat sy Avions Voisin as “een van 80 top Franse ou motors” uitgenooi is na die Franse CAR se eeufeesvieringe.
Die betrokke Voisin ‘woon’ tans op die Fick-eiendom in Frankryk se Rhônevallei. “Paul het ons plattelandse huisie daar vir een van sy ander motors verruil!” lag Leonora.
So hoewel hierdie spesifieke antieke model nie by vanjaar se GOMS verskyn nie, sal daar baie klassieke en antieke motors en fietse byderhand wees, sowel as moderne masjiene wat beloof om harte te steel; heerlike happies om aan te peusel en deuntjies wat jou voete saal laat tik.
Besoekers moet by Carpe Diem, naby die Eden Tegniese Hoërskool (voorheen PW Botha Kollege), skouterrein parkeer. Alle Covid-protokolle sal nagekom word en kaartjies kos R50 per tydgleuf (8-11vm, 11vm-2nm, 2-5nm).
Volg George Oumotorskou op Facebook vir bykomende inligting.