Kom koop vir jou ‘n ou motor

Kom koop vir jou ‘n ou motor

George – Die 23ste George Oumotorskou, ondersteun deur Oakhurst Versekeringsmaatskappy, vind op 9 en 10 Februarie 2019 vir die laaste keer op die terrein van die PW Botha Kollege in Yorkstraat plaas. Vanaf 2020 sal die George Oumotorskou by Glenwood House Privaat Skool plaasvind.
Vanjaar se George Oumotorskou fokus op raar en eksotiese motors wat deur trotse eienaars vanoor die hele land uitgestal gaan word. Sowat 800 voertuie, waarvan die meeste voor 1975 vervaardig is, asook nuwe modelle, stilstaande enjins en meer as 5000 modelmotortjies, word tydens die skou uitgestal. ‘n Klompie stalletjies sal naas lekker kos, drinkgoed , snuisterye en ook motortoebehore, onderdele en ander motorverwante items te koop aanbied.

Een van die hoogtepunte van die George Oumotorskou is gewis die House of Classic and Sports Cars in Knysna se veiling van veteraan-, klassieke- en sportmotors. “Ons spits ons toe op die koop en verkoop van hierdie soort voertuie,” sê Wendy Rademeyer.
“Ons is trots daarop om by die George Oumotorskou betrokke te wees. Die veilinghuis se hele 6% kommissie op die pryse van al die voertuie wat verkoop word, word geskenk aan die Suid-Kaap Oumotorklub, wat dit aan liefdadigheidsorganisasies van hul keuse uitdeel.”
Die veiling van veteraan-, klassieke- en sportmotors vind Saterdag 9 Februarie vanaf 13:00 tot 14:00 op die skouterrein plaas. Belangstellendes kan die voertuie vanaf 09:00 kom besigtig. Alle voornemende kopers moet voor 12:45 registreer as koper. Persone wat nie registreer nie, mag nie deelneem aan die veiling nie. ‘n Voornemende koper moet ‘n terugbetaalbare deposito van R3000 met ‘n kredietkaart betaal; indien hy nie ‘n voertuig koop nie, word die bewys van die deposito vir hom teruggegee. Geen kontant-deposito’s sal aanvaar word nie.
Wendy sê dat net voertuie wat verkieslik voor 1975 vervaardig is en wat in ‘n goeie, lopende toestand is, oorweeg sal word vir die veiling. “Ons moedig verkopers aan om realistiese pryse vir die voertuie te vra en ons sal hulle help om so ‘n prys vas te stel.”
Enige voornemende verkoper kan the House of Classic and Sports Cars kontak by 044-382 1000, 081 325 1507 of 082 566 7897, of ‘n e-pos stuur aan info@hocasc.co.za . Besoek die webtuiste by www.hocasc.co.za vir meer inligting.
Bespreek vooruit
Toegangskaartjies is aanlyn beskikbaar by www.quicket.co.za op die Events-blad van die Suid-Kaap Oumotorklub se webtuiste www.scocc.co.za

Toegangsfooie
Saterdag: Volwassenes R60 pp, Pensionarisse R45 pp, kinders R25 pp
Sondag: Volwassenes R25 pp, Pensionarisse R20 pp, kinders R15 pp
Naweektoegang: Volwassenes R70 pp, Pensionarisse R50 pp, kinders R30 pp

Hektye
Saterdag 9 Februarie: 07:00 – 18:00
Sondag 10 Februarie: 08:00 – 13:00

Vooraf registrasie van voertuie
Slegs voertuie wat voor 1975 vervaardig is en wat vooraf geregistreer is, mag by die George Oumotorskou uitgestal word. Registreer op die webtuiste www.scocc.co.za of kontak Klaus Oellrich by 076 764 0897 vir meer inligting oor registrasie of algemene inligting.
Voornemende stalletjiehouers kan die aansoekvorm van die webblad aflaai, of Mike van der Steen by 083 280 3653 bel vir meer inligting.