08 Feb Meneer Kuschke se Veteraan Toer-fut is nog lank nie uit nie!
Philip Kuschke is aan die stuur van die 2022 Zesto Café Veteraan Toer, wat die voorloper is van twee dae se enjinplesier wanneer George Oumotorskou sy 25ste bestaansjaar vier op 12 en 13 Februarie te Eden Tegniese Hoërskool.
Die Silwer Jubileum GOMS geleentheid word weer eens trots ondersteun deur SCRIB BENZeum, en vanjaar se voorafgaande padslaan van veteraan en klassieke motors is moontlik gemaak deur Zesto Café by Eden Meander.
Philip, tans sekretaris van die Model T Ford-klub van Suid-Afrika, kom ‘n lang pad met hierdie merkwaardige Amerikaans-geboude motors. Nie net is hy ‘n staatmaker op die Suid-Kaap Oumotorklub se reëlingskomitee nie, maar dié jaar is die 17de keer dat hy die Vet Toer organiseer.
En nee, die feit dat hy hierdie toer soveel keer vantevore laat werk het, maak hom niks minder opgewonde oor vanjaar se uitstappie nie, met deelnemers van heinde en verre wat deel uitmaak van die jolige toergeselskap.
“Daar is ‘n tasbare gevoel van afwagting tussen ons. Een deelnemer van Kaapstad sê hy reël sy jaarlikse vakansie rondom die geleentheid. Enersyds beplan ’n Kanadese deelnemer die besoek aan sy Tuinroete-tuiste om spesifiek saam te val met die veteraan toer en oumotorskou.”
Veterane moet noodwendig gebou wees voor 31 Desember 1918. Aangesien hierdie motors so skaars is soos hoendertande, maak die Vet Toer voorsiening vir modelle sonder voorremme, waarvan die vervaardiging rondom 1930 ‘n natuurlike dood gesterf het.
As mens die geringe aantal goed bewaarde bejaarde motors wat vandag in omloop is in ag neem, is dit verrassend dat 22 toergangers vir vanjaar se uitstappie ingeskryf het. Hulle is woonagtig in groot sentrums soos Gauteng en Kaapstad, maar ook dorpies soos Bethlehem en Piet Retief. Dié deelnemers word sonder uitsondering met ope arms ontvang deur hul George kollegas.
Die 2022 Zesto Café Vet Toer skop amptelik af op Donderdag 10 Februarie in Calitzdorp. Robinsonpas word oorgesteek oppad kus toe, en dan word daar verby Hersham en Bothastrand gery voordat Zesto Café as middagete bestemming dien.
“Verskeie Vet Toer-deelnemers maak ook die Crankhandle Klub se Kalkbaai Toer mee, wat op 6 Februarie begin. Ons vertrek dus Vrydag die 4de uit George en slaap in Bredasdorp voor ons Saterdag in die Moederstad aanland,” vertel Philip.
“Nadat ons vetrek uit Kalkbaai, keer ons terug via Wellington en Franschhoek waar ons Dinsdag die oumotormuseum besoek, en dan paar wynplase verken oppad Montagu en Calitzdorp toe.”
Zesto Café Vet Toer val dan amptelik op 10 Februarie in die pad, voor die kundig gerestoureerde stoet se deelname aan George Oumotorskou op 12 & 13 Februarie.
“Ons geniet SKOMK-ondersteuning aangesien die toer baie ou modelle lok – ’n rariteit by skoue landwyd. Helfte van die motors wat vir vanjaar se toer ingeskryf het is ware veterane, die oudste onder hulle ‘n 1908 Model S Ford. Die eienaar/bestuurder is ‘n dame, Ali van Jaarsveld, wie jaarliks vanaf Johannesburg reis om by die toer aan te sluit.
“Dis dus nie net vir ouens nie: baie eienaars word deur hul vennote vergesel, en my vrou Rosita skuif dikwels agter ons 1915 Model T Ford se stuur in. Dis ook die geval met mede-SKOMK lid Phillip Rosser, wie beurte maak met gade Amanda wanneer dit by die bestuur van hul 1926 Model T Ford kom.”
Glimlag en wuif wanneer jy die Zesto Café Vet Toer langs die pad teëkom, en besoek die 25ste George Oumotorskou vir hope wielverwante vermaak. Volg hulle op Facebook en koop jou toegangskaartjie deur Computicket.