30 Aug Recollection Rides die dryfkrag agter Erfenistoer 2021
George, Tuinroete, Suid-Afrika – Aug 2021 – Erfenisdag en Toerismemaand is net twee van vele uitstekende redes waarom lede van die Suid-Kaap Oumotorklub (SKOMK), trots ondersteun deur Recollection Rides, van 23 tot 26 September die pad aandurf.
Die toergroep van 46 deelnemers en 26 uitsonderlike motors – wat darem te minste een jongeling insluit as rugsteun voertuig – vertrek vanaf Halfway Toyota in George teen 8vm op Donderdag die 23ste, sodra die ondersoekproses afgehandel is.
“Ons verseker dat alle voertuie padwaardig is voor ons in die pad val,” verduidelik Erfenistoer organiseerder Pierre Olivier van die SKOMK. Hy voeg by dat telke van die klassieke dames in vanjaar se besonderse stoet, lank reeds die kuns van luilekker-ry vervolmaak het.
“Daar word nie van bestuurders verwag om ‘n konvooi te handhaaf nie, sodat hulle na hartelus ompaaie kan verken,” sê Olivier. En hy behoort te weet wat sy mede-motorliefhebbers na aan die hart lê, aangesien vanjaar reeds sy negende Erfenistoer avontuur is.
Die rugsteun voertuig sien toe dat niemand êrens langs die pad agtergelaat word met meganiese opdraende nie. Maar ‘n deeglike ondersoekproses voor die wegtrekslag maak ‘n wesenlike bydra om hierdie risiko te verminder. Verder verseker dit dat daar aan alle SAVVA (Southern African Veteran and Vintage Association) vereistes voldoen word.
Terwyl vorige jare se toerders die uitgestrekte Karoo binnegevaar het, met ‘n oornagstop in Graaff Reinet – tuiste van die hoofborg se ReCollection Rides Museum – stel dié jaar se deelnemers hul visiere suidweswaarts voor daar van die N2 afgewyk word.
Na die George wegtrek is 23 September se eerste putstop by Delish in Heidelberg, voordat daar Swelllendam toe gemik word. Bestuurders draai daarna hul neuse kuswaarts en oornag in die sjarmante stranddorpie Arniston.
Erfenisdag op 24 September word gevier met ‘n roete wat Baardskeerdersbos, Gansbaai, Caledon, Franschhoek en Villiersdorp insluit, met Worcester die dag se eindbestemming.
Hierdie einste stuk pad waarborg wonderlike uitsigte, aangesien die Overberg se administratiewe setel slegs bereik kan word deur van die Weskaap se mees asemrowende bergpasse te volg.
Verdere opwinding beplan vir Erfenisdag is ‘n besoek aan die prentjiemooi Franschhoek se outomobiel museum, waar ‘n beduidende versameling ou en antieke voertuie en motorfietse bewonder kan word.
Op Saterdag die 25ste vertrek die Erfenistoer vanuit Worcester en ry verby Montagu, Barrydale, en Calitzdorp voordag die dag in Oudtshoorn voltrek word met ‘n uithangaand en prysuitdeling. Die toerders keer terug George toe via De Rust en Uniondale op Sondag.
Die SKOMK organiseer ook die gewilde George Oumotorskou, wat gehou word op 12 en 13 Februarie volgende jaar. Besoek gerus www.scocc.co.za vir fynere besonderhede.