Verlekker jou in die antieke vloot wat deelneem aan vanjaar se Vet Tour

Verlekker jou in die antieke vloot wat deelneem aan vanjaar se Vet Tour

George, Tuinroete (Januarie 2023) –George Oumotorskou (GOMS) is nie net ‘n yslike trekpleister vir Suid-Kaap toeriste en ‘n eindelose bron van vermaak vir plaaslike enjinliefhebbers nie, maar verdien ook ‘n veer in die hoed vir sy Vet-toer, wat al vir byna twee dekades lank die skounaweek voorafgaan.

Philip Kuschke van die Suid-Kaap Oumotorklub (SKOMK) organiseer hierdie onvergeetlike sloertoer vir die 17de jaar, en verduidelik dat die Vet-toer ‘n belangrike rol speel om publieke bewustheid van die GOMS te skep. Vanjaar se Vet-toer word mildelik ondersteun deur SCRIBS Benzeum en Apprentice – die opwindende nuwe eetplek verbonde aan Francois Ferreira Akademie op die R102 naby George Lughawe.

Philip onthou die toer se aanvang: “Net voor die 2005 George Oumotorskou het verskeie lede van die Crankhandle-klub in Kaapstad besluit om met hul ou motors van Kaapstad na George toe te ry, die skou by te woon en dan terug te reis – ’n waaghalsige onderneming!

“Dit het sin gemaak om Suid-Kaapse lede te motiveer om die Kaapse groep bestuurders by Grootbrakrivier met hul ou motors op die Vrydag voor die skou te ontmoet,” sê hy en voeg by dat die opgewondenheid hoog geloop het toe die SKOMK-toergroep en hul Crankhandle-kollegas George invaar met plakkate op hul motors om die 2005 George Oumotorskou te bevorder.

“Ons het begin speel met die gedagte om elke jaar voor die skou ‘n eendagtoer te reël. Die komitee van die Suid-Kaap Oumotorklub het hierdie inisiatief ondersteun en die toer as deel van hul bemarkingveldtog beskou.” Maar nou het die volgende uitdaging na vore gekom: watter voertuie moes geteiken word om aan hierdie toer deel te neem?

Dit was duidelik dat toere vir veteraanmotors en Noag-voertuie selde in Suid-Afrika aangebied word, en dat hierdie modelle nie meer gereeld by oumotorskoue verskyn het nie. Die oplossing? In ‘n poging om meer van hierdie oeroue skoonhede Georg toe te lok, is versamelaars gemotiveer om hul sorgvuldig bewaarde motors af te stof om aan die Vet-toer deel te neem en dan sommer ook die GOMS by te woon.

Die teikengroep is gestel op alle voertuie wat teen 31 Desember 1931 vervaardig is en, te oordeel na inskrywings vir Vet-toer ’23, sal woon ‘n groot getal eienaars van motors wat in hierdie kategorie val vanjaar se geleentheid by. Deelnemers kom van regoor die land, en een internasionale inskrywing reis al die pad van Kanada af.

“Vanjaar sal 22 motors en twee motorfietse by die toer aansluit; 10 van die inskrywings is Model T Fords. Die oudste voertuig is ‘n 1908 Model S Ford wat bestuur word deur Alice van Jaarsveld – een van twee vroulike bestuurders. Rene Scribante, die tweede dame, ry saam in haar pragtige 1913 Benz.

“Die oudste motorfiets is ‘n 1928 Yap en ander merkwaardige voertuie sluit ‘n 1928 Hubmobile, 1912 Rover en 1921 Rolls Royce in,” verduidelik Philip. “Ons is baie opgewonde oor die twee deelnemende motorfietse en sal graag volgende jaar baie meer lede van die motorfietsbrigade wil verwelkom. Die antieke voertuie en motorfietse kom van regoor die land, van sover weg as Johannesburg, Kaapstad, Middelburg en Harrismith.”

Die informele George na Kaapstad Rondomtalietoer skop op Vrydag 3 Februarie af en sluit Donderdag die 9de by die Vet-toer in Klaarstroom aan. Die roete sal deelnemers dan deur Meiringspoort via Uniondale terugbring George toe. ’n Afsluitingsete vind Vrydag 10 na 2nm by Apprentice plaas, wanneer die publiek die oumotors sal kan bewonder.

Die volledige reisplan is soos volg:

3 Februarie – George na Bredasdorp 315km

4 Februarie – Bredasdorp via kuspad na Kaapstad 250km

5 Februarie – Kalkbaai-toer vir veteraanvoertuie (voor-31 Des 1918) 100km

6 Februarie – Ontspan in Kaapstad, oorslaap by Slanghoek Bergoord 180km

7 Februarie – Slanghoek en omgewing 180km

8 Februarie – Slanghoek na Barrydale 265km

9 Februarie – Barrydale na Klaarstroom 235km

10 Februarie – Klaarstroom na George 220km

Kom deel die passie vir motors saam met die Suid-Kaap Oumotorklub wanneer vanjaar se George Oumotorskou met trotse ondersteuning van We Buy Cars met ‘n spesiale fokus op Italiaanse motors byeenkom op 11 en 12 Februarie.

Besoek die GOCS Facebook-blad vir besonderhede en stuur ‘n e-pos aan dyndev@mweb.co.za of skakel 082 457 5675 met navrae. Neem asseblief kennis dat parkering by Carpe Diem Skool beskikbaar sal wees teen R20 per motor.