02 Jul Vier klassieke-motor manne slaan 10-jaar mylpaal tydens Erfenistoer ‘22
George, Tuinroete – (Julie 2022) Reëlings val netjies in plek vir vanjaar se gunsteling-viering van ons Suid-Afrikaanse motor-erfenis, en dit langs ongeveer 1,220km van die Wes-Kaap se skilderagtigste paaie. Soos gewoonlik word die Erfenistoer – 2022 is die geleentheid se 10de bestaansjaar – aangebied onder die Suid-Kaap Oumotorklub vaandel, en met trots ondersteun deur Multi-fine Products.
Om vanjaar se geleentheid nog meer besonders te maak behaal vier deelnemers ‘n dekade van Erfenistoer deelname, met hul mees betroubare oumotors as geëerde lede van hierdie unieke konfooi. Geluk met dié mylpaal aan Kobus Halliday, Chris van Staden, George Marx, en Erfenistoer-voorsitter Pierre Olivier.
Drie van die vier manne het al-10 toere agter die stuur van dieselfde voertuig aangedurf: Chris van Staden in sy rooi 1968 Porche 912 Targa, George Marx in sy groen 1957 Morris Minor, en Pierre Olivier in sy blou 1961 Morris Minor.
Kobus het die toer oor die jare in verskeie motors voltooi, maar sal die 2022-roete, wat van 22 tot 25 September begaan word, in ‘n pragtige blou 1975 Ford Granada aanpak.
Natuurlik kon hierdie uitstappies nie anders as om hul tol op die betrokke motors te eis nie, en elkeen het sedertdien liefdevolle sorg van hul eienaars ontvang om te verseker dat voldoende instandhouding kon plaasvind ter voorbereiding van Erfenistoer ‘22.Pierre verduidelik: “So dink ek aan George se motor wat net skielik langs die pad olie begin slurp het. Ek, weer, het oorverhittingsprobleme ondervind te dankie aan ‘n gekraakte silinderkop. Chris het ‘n klip getref en sodoende sy motor se onderstel by Beervleidam beskadig.
“As ek al-10 toere in ag neem, moet ek daarop wys dat hierdie motors altesaam sowat 10,500km afgelê het – en hulle loop steeds klopdisselboom! Nie te vrot as mens hul senior status oorweeg nie.”
Hy sê dit is weereens ‘n yslike voorreg om hierdie jaarlikse fees van klassieke motors te kan aanbied en om deel te neem. Vanjaar se roete is as volg:
22 Sept/Dag 1: George – Oudtshoorn – De Rust – Prins Albert – Matjiesfontein;
23 Sept/Dag 2: Matjiesfontein – Ceres – Tulbagh – Porterville – Velddrif – St Helenabaai;
24 Sept/Dag 3: St Helenabaai – Vredenburg – Windmeul – Worcester – Robertson – Montagu;
25 Sept/Dag 4: Montagu – Barrydale – Tradouwpas – Buffelsjagrivier – Riversdal – George.
Die verruklike vloot kan deur die publiek bewonder word tydens tee-pouses in Prins Albert, Matjiesfontein, Tulbagh, St Helenabaai, Windmeul en Montagu.
Kontak Mimi Finestone by mimi@gojipr.net of 084 583 3144 vir verdere besonderhede.